Wie was Dirk Postma
Vra bietjie vyf mense rondom jou wie Dirk Postma was. Jy kry dalk vier wat nie weet nie, en een wat onthou dat die skool se naam Gereformeerde Skool Dirk Postma is. Maar waarom is die skool na hierdie man vernoem?
Dirk Postma was ’n Gereformeerde predikant in Nederland. Sy kerke het hom in 1858 na Suid-Afrika gestuur om in die Transvaal oftewel die Zuid-Afrikaansche Republiek (vandag Gauteng en omgewing) die enigste predikant wat daar was, te help.
In Pretoria en Rustenburg vind hy uit dat ’n groep gelowiges ernstige probleme met die groot Nederduitsch Hervormde Kerk gehad het.
‘n Groep van 15 mense wat ernstig beswaard was oor al die verkeerde dinge in daardie kerke het hom gevra om hulle predikant te word. Een van hulle was Paul Kruger wat later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek geword het. En in 1859 is die eerste Gereformeerde Kerk in Rustenburg onder ’n seringboom opgerig. Toe kom daar ‘n gemeente in Pretoria. Vandag is daar nog ’n pragtige kerkgebou in die hartjie van Pretoria, reg oor Paul Kruger se huis. Gaan kyk gerus ’n bietjie daar. Daarna kom daar Geformeerde kerke in talle dorpe in die land.
In 1866 word ds Postma na die Gereformeerde Kerk in Burgersdorp beroep. Die kerk en dorp is redelik bekend. Ds Postma het dadelik begin met die opleiding van predikante en in 1869 word die Teologiese Skool in Burgersdorp opgerig wat baie jare later na Potchefstroom verskuif is – waar dit vandag nog is.
Ds Postma het sterk gevoel oor die belangrikheid van Christelike skole. Ander skole wat nie Christelik was nie, vergiftig kinders se koppe, het hy gesê. Daarom is die skool na hom vernoem.
Sy eerste vrou is reeds kort na hul huwelik oorlede. Hy trou daarna weer, maar die eggenote het ‘n paar jaar later ook gesterf. So ook sy derde vrou waarmee hy na Suid-Afrika gekom het, en sy vierde vrou in 1869. Maar sy vyfde vrou was vir elf jaar weduwee nadat Dirk Postma in 1890 oorlede is, 72 jaar oud. Hy het in totaal 20 kinders gehad waarvan vyf vroeg gesterf het. En vyf van sy seuns het predikant geword.
Ds Postma was geliefd, slim, hardwerkend en toegewy aan die opdragte wat die Here hom gegee het. In die laerskool se biblioteek is ‘n dik boek oor Dirk Postma en sy lewensgeskiedenis. Gaan blaai gerus ‘n bietjie deur die boek.
Rob van der Kooy
28 Mei 2022