‘n Reformatoriese skool was regtig nodig

Toe die Gereformeerde Skool Dirk Postma op  7 Januarie 1987 sy deure vir 42 kinders en drie onderwysers vir gr 1 – 5 geopen het, het baie Gereformeerdes uit die omgewing gevra of dit regtig nodig was. Daar was tog ander goeie skole in die omgewing.

Deur die jare – nou al 34 jaar – is duidelik bewys hoe nodig dit was. Nie net was dit duidelik dat godsdiensbeoefening in die destydse skole te oppervlakkig was nie, maar ook hoe selfs dit geheel en al verdwyn het.

Deur die jare het die Here dit moontlik gemaak dat Dirk Postma groei. Vandag is daar byna 400 skoliere in die kleuterskool,  laerskool, hoërskool, en ook ‘n naskoolsentrum. Waar die skool eers net van die paar klaskamers in die nuwe gebou van die GK die Kandelaar gebruik gemaak het, is sy fasiliteite nou ook oor vyf aangrensende persele versprei, met in totaal ‘n stuk of 30 klaslokale, biblioteek, rekenaarsentra, en ‘n totale personeel van 51 (voltyds en deeltyds).

Die skool is in die geloof begin. In die geloof dat dit die Here se wil is, word nog steeds daaraan gebou. Sy seën was en is onontbeerlik en noodsaaklik.

Rob van der Kooy