Henning Noëth: Gereformeerde onderwys, wat is dit?

Die sinnetjie: ”Ek was in Gereformeerde skool Dirk Postma,” ontlok altyd ‘n eienaardige reaksie van mense buite die Gereformeerde kerk wat vra:  “Waar was/is jy op skool?”

“‘n Gereformeerde skool? Is dit soos ‘n kerkskool?” volg die vraag na die tyd.

Dit is egter met daardie laaste vraag waar die mense ‘n groot fout maak. Dit is nie ‘n kerkskool met Christelike leer nie, dit is ‘n Gereformeerde skool, met Gereformeerde leer, wat waardes en integriteit leer. Wat jou oor die dinge van die wêreld leer,  nie die wêreldlike nie, uit die perspektief van die Woord van God.

Wat jou leer hoe om ‘n mens te wees (wat moeilik is om te doen met tieners) maar ook ‘n Christen ter selfde tyd.

Jy leer van God se Woord by die kerk, by die huis en by die skool. Jy leer Psalms uit jou kop uit sing, van die mees onbekende tot dié wat mens leer van kleintyd af. Die Geneefse melodieë, die alternatiewe melodieë. Hoe om jou wapenrusting van God aan te trek en die wêreld in te vaar.

Jy leer hoe om jou lig te laat skyn en jy leer hoe om God se lig na buite toe te skyn.

Dan breek die dag aan wat jy jou vlerke moet sprei en die lewe met al twee hande aangryp. Jy weet wat is reg en verkeerd. Jy weet hoe om ‘n aanval teen jou geloof deur ‘n dosent of student te hanteer. Jy weet hoe om jou bes te gee en wat jou beginsels in Christus is. Jy weet hoe  om ander van God se Woord te vertel en dit uit te leef.

Dalk voel dit soms of alles net te veel raak, maar daar is een voordeel wat jy as ‘n Gereformeerde skool-matrikulant het: ‘n Geloofsgemeenskap wat saam jou staan en jou dra, saam wie jy kan bid tot God Drie-enig, in die beste en in die aakligste tye!

Wees sterk en vol moed!Henning het in 2016 aan GSDP gematrikuleer en is besig met sy Honneursgraad in Meganiese Ingenieurswese.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *