Oomblikke van pret, herinneringe om te koester.

Daar is mos so ʼn gesegde wat sê jy kan eerder iets doen, as wat jy dit nie doen nie en later spyt is. Dis nie baie gereformeerd nie, ek weet. Maar ek is seker as jy die betrokkenes in my verhale vra, sal hulle saamstem dat ons streke die moeite werd was. 

As iemand my vandag vra om my gunstelingherinnering uit my hoërskooljare op te noem, sal dit te moeilik wees om een uit te sonder. 

Dalk is dit die dag toe ek en my maats skelm deur die kunsklas se venster geklim het om nog iets vir ʼn taak te voltooi. Of dalk die keer toe ons pouse oor die muur gespring het om in die buurtannie se swembad te gaan afkoel en ek met sopnatklere my Engelse toespraak moes aandurf. Die juffrou het niks gesê oor die klere nie, maar dalk het sy regtig net nie mooi gekyk nie? 

Daar is soveel kosbare oomblikke en soveel vriendskappe wat ek vandag nog koester. 

Voor my heel laaste eksamen het ʼn paar van die meisies in ons klas vir oulaas in die tannie langsaan se swembad ingeduik. Sy het ons gedreig met die polisie en selfs die onderhoof gebel.  Daar is ʼn gerug dat hy haar ewe nugter geantwoord het: “En?,” alhoewel niemand met sekerheid kan sê nie…

Daar hang foto’s teen my muur van my skooldae en ek is ongelooflik dankbaar vir die voorreg om soveel vryheid te kon hê, soveel pret! 

Dalene de Vente

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *