Oud-Dirkie vertel: Te danke aan ‘n storm

Deur Marisha Hermann

Dit het gesous. Die reën het skuins in die wind gewaai. Sommige van die koshuisstudente het in die
boonste woonstelle gekuier en aangesien dit so erg gereën het kon ons nie weer afgaan na ons eie
kamers toe nie. Ons het gesels oor Jelly Tots wat die seuns vir ons gaan koop het en ons planne vir
die volgende dag. Uit die bloute, in ‘n oomblik van stilte, erken een van die studente dat sy in ‘n
kulte, wat hulleself voordoen as ‘n kerk, vasgevang is. Sy waarsku ons om nie deel van die groep te
word nie. Daardie aand het ons tot net na middernag oor hierdie onderwerp gesels. ‘n Onbeskryflike
vrede het die vertrek gevul. In daardie oomblik het ek vir die eerste keer besef waste groot impak
my laerskool opvoeding op my lewe het.


Ek het die voorreg gehad om my laerskool opvoeding in Gereformeerde Laerskool Dirk Postma te
ontvang waarna ek na die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria gegaan het. In die hoërskool was ek
gereeld gekonfronteer met verskillende gelowe en verskillende sienings. Te danke aan my kennis
wat ek in Dirk Postma opgedoen het, kon ek presies verstaan waarvan hulle praat. Nie net het dit my
gehelp om met die mense te kommunikeer nie, maar dit het my ook instaat gestel om insig te hê en
die regte vrae te vra sodat ons op ‘n dieper vlak kon kommunikeer.


‘n Paar dae later help ons die dame om ‘n boodskap te tik en uit die groep waarin sy vasgevang
gevoel het te kom. ‘n Onbeskryflike vrede daal in haar hart neer en my hart word gevul met onsaglik
baie dankbaarheid.

Marisha is ‘n oud-Dirkie wat tans aan Akademia studeer.